Ek glo dis omdat dit soveel vorme kan aanneem wat die woordeboekskrywers nie in woorde kon uitdruk nie.
Dit is gekoppel aan n baie intieme verhouding wat skielik nie meer is nie.
Mens se hele lyf trek saam op onverwagse oomblikke wanneer die lyf se amygdala en limbiese sisteem gekonfronteer word met emosies en herinneringe wat uit die dieptes van ons siel opkom.
Hartseer is n seer hart wat mens van binne gryp wanneer jy dit die minste verwag.
Dis n soort verlange wat eindeloos terugkom, soos 'n storie wat nie klaar vertel is nie.
Die gemis van die wese wat eens n asem in die huis was is dieselfde vir mens en dier.
Soveel keer wou ek al gaan kyk waar my Blom is, net om te besef sy is nie meer daar nie.
Elke tuiskomslag maak ek die binnedeur van die motorhuis oop met n verwagting dat my blom regstaan om te speel met n blaffie of grommetjie van louter plesier om my te sien.
Elke aand met slaaptyd wil ek seker maak sy kry nie koud nie, ek loop nog draaie om die kolle waar haar huisbeddens oral was, en moet soveel selfbeheersing aan die dag lê met oggend staptyd wanneer ek my 'buff' van die kapstok afhaal waar haar leiband eens was.
Vanoggend is die suiderkruis weg en stap ons in stilte terwyl drie satelliete in die hemelruim bokant ons verbygly. Ek wonder in my stilligheid watter ster my Blom s'n kan wees, maar kan nie een kies nie, want dan is dit permanent....
My Blom was die leë nes se engel wat saam gewag het dat die kinders kom kuier, saam weggehardloop het op die strand as die branders inrol en verwoed haar stem dik gemaak het as 'n duif of hadeda kom raas op die dak.
Lukas se woorde sal altyd weerklink: